Tussen Strikke
419
handelwyse van die aanklaers was heeltemal ongeoorloof. Jesus
het hulle egter op hulle eie grond ontmoet. Die wet het bepaal dat
in die uitvoering van die straf deur steniging, moes die getuie in
die saak die eerste klip gooi. Toe het Jesus orent gekom, Sy oë op
die huigelaars gevestig, en gesê: “Laat die een van julle wat sonder
sonde is, die eerste klip op haar gooi.” En toe het Hy weer neergebuk
en op die grond geskryf.
Hy het nie die wet deur Moses gegee ter syde gestel, of inbreuk
gemaak op die gesag van Rome nie. Die aanklaers is verslaan. Nou
het hulle, met die kleed van geveinsde heiligheid van hulle afgeskeur,
skuldig en veroordeel gestaan in die teenwoordigheid van Volstrekte
Reinheid. Hulle het gesidder by die gedagte dat die bedekte sondes
van hulle lewe voor die skare geopenbaar sou word; en een vir een,
met hangende hoof, het hulle weggesluip, en die slagoffer by die
ontfermende Heiland agtergelaat.
Jesus het opgestaan, die vrou aangekyk, en gevra, “Vrou, waar is
daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? En
sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel
jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.”
Die vrou het voor Jesus gestaan, bewende van vrees. Sy woorde,
“
Laat die een van julle wat sonder sonde is, die eerste klip op haar
gooi,” het op haar ore geval soos die doodvonnis. Sy wou dit nie
waag om haar hoof op te lig en die Heiland in die gesig te kyk nie,
maar stil het sy gewag op die vonnis. Met verbasing het sy gesien
hoedat haar aanklaers sprakeloos en verward wegsluip; toe het sy
[471]
daardie woorde van hoop gehoor, “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan
heen en sondig nie meer nie.” Haar hart is versmelt, en sy het haarself
aan Jesus se voete neergevly, geween van dankbaarheid, en met bitter
trane haar sondes bely.
Dit was vir haar die begin van ’n nuwe lewe, ’n lewe van rein-
heid en vrede, gewy aan die diens van God. By die opheffing van
hierdie gevalle siel, het Jesus ’n groter wonderwerk verrig as om
die vreeslikste liggaamlike siekte te genees; Hy het ’n geestelike
siekte genees wat die ewige dood ten gevolge sou gehad het. Hierdie
boetvaardige vrou het een van Sy getrouste volgelinge geword. In
selfopofferende liefde en toewyding het sy Sy vergewende genade
beloon.