332
DIE KONING VAN DIE EEUE
Die wonderwerk met die brode leer ’n les van afhanklikheid van
God. Toe Christus die vyfduisend gevoed het, was die voedsel nie ter
hand nie. Oënskynlik het Hy geen middels tot Sy beskikking gehad
nie. Daar was Hy, met vyfduisend mans, behalwe nog die vroue en
die kinders, in die verlate plek. Hy het nie die groot skare gevra om
Hom te volg nie; hulle het gekom sonder uitnodiging of bevel; maar
Hy het geweet dat nadat hulle so lank na Sy leer geluister het, hulle
honger en swak sou wees; want net soos hulle het Hy ook honger
geword. Hulle was ver van hulle huise af, en die nag was aan kom.
Baie van hulle het geen geld gehad om voedsel te koop nie. Hy wat
vir hulle ontwil veertig dae in die woestyn gevas het, sou hulle nie
toelaat om honger huis toe te gaan nie. Dit is die voorsienigheid van
God wat Jesus geplaas het waar Hy was; en Hy het op Sy hemelse
Vader vertrou vir die middels om in hulle behoefte te voorsien.
Wanneer ons in die noute is, moet ons op God vertrou. Ons
moet wysheid en oordeel gebruik in al die handelinge van die lewe,
sodat ons nie, deur roekelose bewegings, onsself in beproewing bring
nie. Ons moet nie in moeilikhede beland deur die middels wat God
voorsien, te verwaarloos, en die vermoëns wat Hy ons gegee het, te
misbruik nie. Christus se werkers moet Sy bevele stip gehoorsaam.
Dit is Gods werk, en as ons ander tot seën wil wees, moet Sy planne
gevolg word. Die eie-ek moet nie die middelpunt wees nie; die eie-ek
kan geen eer ontvang nie. As ons planne maak volgens ons eie idees,
sal die Here ons aan ons foute oorlaat. Maar as ons in die noute
kom nadat ons Sy aanwysings gevolg het, sal Hy ons verlos. Ons
moet nie in moedeloosheid opgee nie, maar in elke nood moet ons
hulp soek by Hom wat ewige krag tot Sy beskikking het. Dikwels
sal ons in moeilike omstandighede kom, en dan moet ons, in die
volste vertroue, op God reken. Hy sal elke siel bewaar wat in die
verknorsing kom omdat hy probeer om in die weg van die Here te
bly.
[375]
Deur die profeet het Christus ons beveel, “dat jy jou brood breek
vir hom wat honger het,” en die “neergeboë siel versadig”; “as jy
een nakend sien, dat jy hom aantrek,” en “ellendiges, swerwelinge in
die huis inbring.” Jes. 58: 7-10. Hy het ons opdrag gegee, “Gaan die
hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”
Markus 16: 15. Maar hoe dikwels word ons moedeloos en verswak
ons geloof wanneer ons sien hoe groot die behoefte is en hoe min