Page 293 - DIE KONING VAN DIE EEUE (1940)

Wie is My Broers?
289
Die vyandskap wat teen die evangelie opgewek is, is diep gevoel
deur die Seun van God, en dit was vir Hom die pynlikste in Sy
eie huis, want Sy eie hart was vol vriendelikheid en liefde en Hy
het liefde verwag van Sy huisgenote. Sy broers wou hê dat Hy
moes swig vir hulle idees wanneer so ’n handelwyse heeltemal in
botsing sou kom met Sy goddelike sending. Hulle het gemeen dat Hy
hulle raad nodig gehad het. Hulle het Hom uit ’n menslike oogpunt
geoordeel, en hulle het gedink dat as Hy net die dinge sou spreek
wat aanneemlik was vir die skrifgeleerdes en Fariseërs, Hy daardie
onaangename stryd sou vermy wat deur Sy woorde opgewek is.
Hulle het gemeen dat Hy ’n bietjie ongebalanseerd was omrede Sy
aanspraak op goddelike gesag, en deur Homself bokant die rabbi’s
te stel in die bestraffing van hulle sondes. Hulle het geweet dat die
Fariseërs geleentheid gesoek het om Hom te beskuldig, en hulle het
gevoel dat Hy hulle genoeg rede daartoe gegee het.
Met hulle kort meetsnoer kon hulle nie die sending verstaan
wat Hy kom vervul het nie, en om daardie rede kon hulle nie met
Hom simpatiseer in Sy beproewings nie. Hulle harde, onvriendelike
woorde het getoon dat hulle ’n verkeerde begrip van Sy karakter
gehad het, en nie besef het dat daar ’n vereniging van die goddelike
met die menslike was nie. Hulle het Hom dikwels in groot droefheid
gesien, maar pleks van Hom te troos, het hulle gees en hulle woorde
net Sy hart verwond. Sy gevoelige natuur is gemartel, Sy motiewe is
nie verstaan, en Sy werk nie begryp nie.
Sy broers het dikwels die filosofie van die Fariseërs aangevoer,
stokoud en verslete, en hulle het gemeen dat hulle Hom kon leer —
Hy wat al die waarheid verstaan en al die verborgenhede geweet het.
Wat hulle nie kon verstaan nie, het hulle sommer alles veroordeel.
Hulle verwyte het Hom diep seergemaak en Sy siel was moeg en
ongelukkig. Hulle het geloof in God betuig en het gedink dat hulle
God geregverdig het, maar God was al die tyd by hulle in die vlees
en hulle het Hom nie geken nie.
[329]
Hierdie dinge het Sy pad met dorings besaai. Die misverstand
in Sy eie huis het Christus so gegrief dat dit vir Hom ’n verligting
was om nie daar te wees nie. Daar was een huis wat Hy baie graag
besoek het — die huis van Lasarus, Maria en Martha; want in die
atmosfeer van liefde het Hy rus vir Sy gees gevind. Maar daar was
nogtans niemand op aarde wat Sy goddelike sending kon verstaan,