154
DIE KONING VAN DIE EEUE
die Heiland het voortgegaan, “Jy het reg gesê: Ek het nie ’n man nie;
want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou
man nie. Dit het jy met waarheid gesê.”
Die vrou het gesidder. ’n Misterieuse hand was besig om die
blaaie van haar lewensgeskiedenis om te blaai, en dinge te openbaar
wat sy gehoop het om vir ewig bedek te hou. Wie was hierdie man
wat die geheim van haar lewe kon lees? Sy het aan die ewigheid
begin dink, aan die toekomstige oordeel wanneer alles wat nou bedek
is, openbaar gemaak sal word. In die lig van daardie dinge is die
gewete wakker gemaak.
Sy kon niks ontken nie; maar sy het probeer om alles in verband
met hierdie onwelkome onderwerp te ontduik. Met groot eerbied
het sy gesê, “Here, ek sien dat U ’n profeet is.” En toe, hopende om
die oortuiging wat in haar posgevat het, te smoor, het sy die gesprek
verander en oor die godsdienstwis gepraat. As dit ’n profeet hierdie
was, sou Hy haar seker kon inlig oor sake waaroor daar so lank reeds
getwis word.
Geduldig het Jesus haar toegelaat om die gesprek te stuur in die
rigting wat sy verkies het. In die tussentyd het Hy op ’n kans gewag
om die waarheid nogeens aan haar hart te bring. “Ons vaders het
op hierdie berg aanbid,” het sy gesê, “en julle sê dat die plek waar
ons behoort te aanbid, in Jerusalem is.” Net voor hulle was die berg
Gerisim; die tempel daar het in puin gelê, en net die altaar alleen het
gestaan. Hierdie plek van aanbidding was die onderwerp van ’n stryd
tussen die Jode en die Samaritane. Sommige van die voorvaders van
laas- genoemdes het eentyd aan Israel behoort; maar weens hulle
[185]
sondes, het die Here toegelaat dat ’n afgodiese nasie hulle verower.
Vir baie geslagte reeds is hulle vermeng met afgodedienaars wie se
godsdiens geleidelik hulle s’n besoedel het. Dit is waar dat hulle
aangevoer het dat hulle beeld maar net gebruik is om hulle aan die
lewende God te herinner, die Regeerder van die heelal; maar nogtans
het dit ten gevolge gehad dat die mense hulle beelde aanbid het.
Toe die tempel te Jerusalem herbou is in die dae van Esra, wou
die Samaritane baie graag die Jode help met die bouwerk. Hierdie
voorreg is aan hulle geweier, en daar het ’n kwaai vyandskap ontstaan
tussen die twee volke. Die Samaritane het hulle eie tempel gebou
op die berg Gerisim. Daar het hulle aanbid volgens die rituaal van
Moses, alhoewel hulle nie heeltemal die afgodediens opgegee het