By die Fontein van Jakob
153
Jesus het nie dadelik die vraag oor Homself beantwoord nie,
maar met groot erns het Hy gesê, “Elkeen wat van hierdie water
drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek
hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat
Ek hom sal gee, sal in hom word ’n fontein van water wat opspring
tot in die ewige lewe.”
Hy wat trag om sy dors te les by die fonteine van hierdie wêreld
sal drink om net weer dors te kry. Orals is die mense onbevredig.
Hulle verlang na iets wat sal voorsien in die behoeftes van die siel.
Daar is net Een wat kan voorsien in daardie behoefte. Die behoefte
van die wêreld, die Koning van die eeue, is Christus. Die goddelike
genade wat Hy alleen kan meedeel, is soos lewende water wat die
siel reinig, verkwik en versterk.
Jesus het nie die idee gegee dat net eenmaal se drink van die
water van die lewe genoeg sal wees vir die ontvanger nie. Hy wat
die liefde van Christus gesmaak het, sal gedurig verlang na nog
meer en meer, en hy sal na niks anders soek nie. Die rykdom, eer,
en plesier van die wêreld sal hom nie aantrek nie. Die gedurige
verlange van sy hart sal wees, Nog meer van U. En Hy wat aan die
siel sy behoefte openbaar, is gereed om die honger en dors daarvan
te les. Elke menslike bron sal faal. Die damme sal leeg word, en
watergate opdroog; maar ons Verlosser is ’n onuitputlike Bron. Ons
mag drink, en weer drink, en altyd ’n nuwe voorraad kry. Die een
in wie Christus woon, het binne-in hom die bron van seën — “’n
fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” Uit daardie
bron kan hy krag en genade put genoeg vir al sy behoeftes.
[184]
Toe Jesus gepraat het van die lewende water, het die vrou met die
grootste belangstelling na Hom gekyk. Hy het haar belangstelling
opgewek en ’n begeerte vir die gawe waarvan Hy gespreek het. Sy
het besef dat dit nie die water was van Jakob se fontein waarvan Hy
gepraat het nie, want daarvan het sy gedurig gedrink om maar net
weer dors te word. “Here,” het sy gesê, “gee my daardie water, sodat
ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie.”
Jesus het nou skiehk die gesprek verander. Voordat hierdie siel
die gawe kon ontvang wat Hy wou gee, moes sy haar sonde besef en
haar Verlosser sien. Hy het toe aan haar gesê: “Gaan roep jou man
en kom hier.” Sy antwoord, “Ek het nie ’n man nie.” Sy het gehoop
om op hierdie manier alle vrae in daardie rigting te verhoed. Maar